In die sewentigs beland die Du Preez susters (Jo & Salie) wat kranige hokkiespelers was op die lekker dorp, Upington, en vinnig besef hulle dat die dorp geen hokkie het nie. In 1975 begin Jo dus met die hulp van Salie ‘n “hokkieklub” waar alle hokkiespelers saam kon oefen en speel. In 1976 begin die 2 hoërskole, naamlik Upington en Gordonia Handelskool, om vir die dogters hokkie en nie netbal nie, aan te bied. Salie begin om die laerskole af te rig en Jo die hoërskole, en so begin hokkie om as sport sy regmatige plek in die dorp in te neem.
Jo se passie vir die sport is egter groot en sy veg hard om haar dorp se kinders in die Griekwaspanne te kry. Iets wat sy met groot sukses regkry. Sy kry dit ook reg om twee provinsiale toernooie na Upington te bring.
In Uppieland stap sy baie diep spore. Die nuwe sport het nie borge gehad nie en Jo het braaie gereël om speelklere vir die eerste span te kry. Met die stel klere moes daar dan ten minste 3 seisoene gespeel word. Alhoewel sy vandag nie meer aktief betrokke is by Uppies se skoolhokkie nie, kweek sy haar liefde vir hokkie by die Uppie Juniors. En bly so die “go to” vir menige spelers vir raad en erkenning.
Op 29 Julie 2017 vereer Hoërskool Upington haar dus vir haar bydrae tot hokkie nie net in Uppieland nie maar ook in Upington deur hulle nuwe hokkieveld te benoem na hulle geliefde Juffrou Jo Gertenbach.
Become a Sponsor