Die atletiekseisoen is op `n einde, maar sommige atlete oefen al klaar weer vir die volgende seisoen. Hulle is die ware atlete vir wie die einddoel die SA kampioenskappe en selfs meer is.
Van hierdie atlete is ook in Uppieland. Hul het die heel seisoen onverpoosd geoefen, byeenkomste met durf aangepak en elke keer as hul presteer, het hul net nog harder gewerk vir die volgende byeenkoms.
Na `n baie vol seisoen is 5 Uppie-atlete met groot drome na die SA byeenkoms in Durban gedurende die afgelope vakansie.
Angus Damarah, Nicolene Loots, JJ Snyders en Harry Nel het hul provinsie na die beste van hul vermoë verteenwoordig. Henro Kotze kon ongelukkig nie gaan nie a.g.v. `n baie ernstige beenbesering. Die ander 4 het baie goed gevaar. Angus dring deur tot die semi-finale vir die 200m seuns O/17. Harry het die semi-finale vir die 100m seuns O/17 net-net gemis. Nicolene eindig 9de in die 400m Hekkies dogters O/17.
Die kroon van die byeenkoms was egter die jong, opkomende JJ Snyders. Hy kry `n silwer medalje vir die 100m Hekkies seuns O/15. Net daarna moet hy die 400m finaal hardloop en eindig vierde. Wat `n pragtige prestasie.
Baie dankie aan ons afrigters, Ruben Ramolefi en Jameson Nouze en ook mev. Annekie Loots vir alles wat sy vir Uppie-atletiek doen.
Become a Sponsor