In die opmars na die 2017 Interhoër byeenkoms op 24 Februarie, het Hoërskool Merensky se topatlete op 15 Februarie kragte gemeet by die Prestige Top 10-byeenkoms by TUKS se bekende LC de Villiers sportterrein.

In die dogterspan het vlugvoetige Sancha van Niekerk puik presteer met ‘n derde plek in die o.17 400m. Sy behaal ook ‘n sesde plek in die 200m.

Bernalee Benadé ewenaar hierdie prestasie met ‘n derde plek in die dogters o.17 spiesgooi.

Ruan van Rooyen maak die seunspan trots met sy vierde plek in die o.14 400m. Spankaptein, Noko Malatji, behaal ‘n vyfde plek in die o.19 110m hekkies item.  Dylon Herrendoerfer hardloop die o.19 400m en behaal ‘n sesde plek.

Bogenoemde is geen geringe prestasie nie, as mens in ag neem dat atlete van 80 skole aan hierdie byeenkoms deelgeneem het.

Plasieland vertrou om op Vrydag, 24 Februarie met die Interhoër by die Peter Mokaba Stadion in Polokwane, die 2017 atletiekseisoen op ‘n oorwinningsnoot af te sluit.

Become a Sponsor